Google se diensbepalings
Laas gewysig: 01 Maart 2012
Welkom by Google!
Dankie dat jy van ons produkte en dienste (“dienste”) gebruik maak. Die dienste word deur Google Inc. (“Google”) verskaf wat geleë is by 1600 Amphitheatre Parkway, Mountain View, CA 94043, Verenigde State.
Deur van ons dienste gebruik te maak, stem jy in tot hierdie bepalings. Lees dit asseblief aandagtig deur.
Ons dienste is baie uiteenlopend, dus kan daar soms bykomende bepalings of produkvereistes van toepassing wees (insluitend ouderdomsvereistes). Bykomende bepalings sal beskikbaar wees by die relevante dienste, en daardie bykomende voorwaardes word deel van jou ooreenkoms met ons as jy daardie dienste gebruik.
Gebruik van ons dienste
Jy moet enige beleid wat aan jou beskikbaar gestel is binne die dienste, navolg.
Moenie ons dienste misbruik nie. Byvoorbeeld, moenie met ons dienste inmeng of probeer om toegang daartoe te verkry deur ’n ander metode te gebruik as die koppelvlak en die instruksies wat ons voorsien nie. Jy mag slegs ons dienste gebruik soos deur die wet gemagtig, insluitend relevante uitvoer- en heruitvoer-beheermaatreëls en -regulasies. Ons kan ons dienste aan jou opskort of beëindig as jy jou nie by ons bepalings en beleid neerlê nie, of as ons wangedrag vermoed en dit ondersoek.
Die gebruik van ons dienste gee nie aan jou eienaarskap van enige intellektuele eiendomsregte in ons dienste of die inhoud wat jy besoek nie. Jy mag nie inhoud van ons dienste gebruik nie, tensy jy toestemming by die eienaar daarvan verkry het of andersins deur die wet gemagtig word. Hierdie bepalings gee nie aan jou die reg om enige handelsmerke of logo’s wat in ons dienste voorkom, te gebruik nie. Jy mag nie enige regskennisgewings wat in of saam met ons dienste gewys word, verwyder, verberg of verander nie.
Van die inhoud wat deur ons dienste gewys word, behoort nie aan Google nie. Hierdie inhoud is die uitsluitlike verantwoordelikheid van die entiteit wat dit beskikbaar stel. Ons kan inhoud hersien om te bepaal of dit onwettig is of ons beleid skend en ons kan inhoud verwyder of die vertoning daarvan weier as ons redelikerwys glo dat dit ons beleid skend of die wet oortree. Maar dit beteken nie noodwendig dat ons inhoud hersien nie, so moet asseblief nie aanneem dat ons dit doen nie.
In verband met jou gebruik van die dienste kan ons vir jou diensaankondigings, administratiewe boodskappe en ander inligting stuur. Jy kan kies om sommige van hierdie kommunikasie nie te ontvang nie.
Jou Google-rekening
Jy kan ’n Google-rekening nodig hê om sommige van ons dienste te gebruik. Jy kan jou eie Google-rekening skep, of jou Google-rekening kan deur ’n administrateur aan jou toegewys word, byvoorbeeld jou werkgewer of opvoedkundige instansie. As jy ’n Google-rekening gebruik wat deur ’n administrateur aan jou toegeken is, kan daar ander of bykomende bepalings van toepassing wees en jou administrateur kan in staat wees om toegang tot jou rekening te kry of dit te deaktiveer.
As jy bewus word van enige ongemagtigde gebruik van jou wagwoord of rekening, moet jy die volgende instruksies volg.
Beskerming van privaatheid en kopiereg
Google se privaatheidsbeleide verduidelik hoe ons jou persoonlike data hanteer en jou privaatheid beskerm wanneer jy van ons dienste gebruik maak. Deur van ons dienste gebruik te maak, stem jy in dat Google sodanige data kan gebruik in ooreenstemming met ons privaatheidsbeleide.
Ons reageer op kennisgewings van beweerde kopieregskending en beëindig die rekeninge van herhaalde oortreders volgens die proses wat uiteengesit is in die sogenaamde Digital Millennium Copyright Act van die VSA.
Ons verskaf inligting om houers van kopiereg te help om hulle intellektuele eiendom aanlyn te bestuur. As jy vermoed dat iemand jou kopiereg skend en jy wil ons daarvan in kennis stel, kan jy inligting oor die indiening van kennisgewings en Google se beleid oor reaksie op kennisgewings in ons Hulpsentrum kry.
Jou inhoud in ons dienste
Sommige van ons dienste laat jou toe om inhoud op te laai. Jy behou eienaarskap van enige intellektuele eiendomsregte wat jy in die inhoud besit. Kortliks, wat aan jou behoort bly joune.
Wanneer jy inhoud na ons dienste oplaai of op enige ander manier verskaf, gee jy aan Google (en diegene met wie ons saamwerk) ’n wêreldwye lisensie om sulke inhoud te gebruik, te huisves, te berg, te reproduseer, te verander, afgeleide werke daarvan te skep (soos die resultaat van vertalings, aanpassings of ander veranderinge wat ons kan maak sodat jou inhoud beter met ons dienste saamwerk), te kommunikeer, te publiseer, in die openbaar uit te voer, in die openbaar te vertoon, en te versprei. Die regte wat jy in hierdie lisensie toeken, is vir die beperkte doel om ons dienste in werking te hou, te bevorder en te verbeter, en om nuwe dienste te ontwikkel. Die lisensie bly geldig, selfs al hou jy op om ons dienste te gebruik (byvoorbeeld vir ’n besigheidsnotering wat jy by Google Maps gevoeg het). Sommige dienste kan maniere voorstel om toegang tot inhoud wat aan daardie diens voorsien is, te verkry en dit te verwyder. Daar is ook bepalings of instellings in sommige van ons dienste wat die omvang van ons gebruik van inhoud wat by daardie dienste ingedien is, beperk. Maak seker dat jy oor die nodige regte beskik om aan ons hierdie lisensie te gee vir enige inhoud wat jy by ons dienste indien.
Jy kan in die privaatheidsbeleid of bykomende bepalings vir spesifieke dienste meer te wete kom oor hoe Google inhoud gebruik en stoor. As jy terugvoer of voorstelle oor ons dienste indien, kan ons jou terugvoer of voorstelle gebruik sonder enige verpligting teenoor jou.
Oor sagteware in ons dienste
Wanneer ’n diens aflaaibare sagteware vereis of insluit, kan hierdie sagteware outomaties op jou toestel opgedateer word sodra ’n nuwe weergawe of kenmerk beskikbaar is. Sommige dienste kan jou vra om jou outomatiese opdateringinstellings te verander.
Google bied aan jou ’n persoonlike, wêreldwye, tantieme-vrye, nie-oordraagbare en nie-eksklusiewe lisensie om die sagteware wat deur Google aan jou verskaf word as deel van die dienste, te gebruik. Hierdie lisensie is vir die uitsluitlike doel om jou in staat te stel om die voordele van die dienste soos deur Google verskaf, te gebruik en te geniet op die wyse wat deur hierdie bepalings toegelaat word. Jy mag nie enige deel van ons dienste of ingeslote sagteware kopieer, verander, versprei, verkoop of verhuur nie, en jy mag ook nie omgekeerde ontwikkelingswerk doen of poog om die bronkode van daardie sagteware uit te vind nie, tensy wetgewing daardie beperkings verbied of jy ons geskrewe toestemming het.
Oopbronsagteware is vir ons belangrik. Sommige sagteware wat in ons dienste gebruik word, kan dalk onder ’n oopbronlisensie aangebied word wat ons aan jou sal beskikbaar stel. Daar kan voorwaardes in die oopbronlisensie wees wat sommige van hierdie bepalings uitdruklik ophef.
Wysiging en beëindiging van ons dienste
Ons is voortdurend besig om ons dienste te verbeter en te verander. Ons kan funksies of kenmerke byvoeg of verwyder, en ons mag ’n diens opskort of heeltemal staak.
Jy kan te eniger tyd ophou om van ons dienste gebruik te maak, alhoewel ons spyt sal wees om jou te verloor. Google kan ook ophou om dienste aan jou te verskaf, of op enige stadium nuwe beperkinge by ons dienste voeg of skep.
Ons glo dat jy jou data besit en dit is belangrik dat jou toegang tot sodanige data behou word. As ons ’n diens staak, sal ons, waar redelikerwys moontlik, jou oor ’n billike tydperk kennis gee en kans gee om inligting van daardie diens te onttrek.
Ons garansies en vrywarings
Ons verskaf ons dienste deur gebruik te maak van ’n kommersieel billike vlak van vaardigheid en sorg, en ons hoop jy sal geniet om dit te gebruik. Maar daar is sekere dinge wat ons nie oor ons dienste beloof nie.
Behalwe vir dit wat uitdruklik in hierdie bepalings of bykomende bepalings uiteengesit word, maak nóg Google nóg sy verskaffers of verspreiders enige spesifieke beloftes oor die dienste. Byvoorbeeld, ons gee geen onderneming oor die inhoud van die dienste, die spesifieke funksie van die dienste, of hulle betroubaarheid, beskikbaarheid of vermoë om aan jou behoeftes te voldoen nie. Ons lewer die diens “net soos dit is.”
Sekere jurisdiksies maak voorsiening vir sekere garansies, soos die nie-uitdruklike waarborg van verkoopbaarheid, doelmatigheid vir ’n spesifieke doel en nieskending. In die mate waartoe dit deur die wet toegelaat word, sluit ons alle garansies uit.
Aanspreeklikheid vir ons dienste
Wanneer dit deur die wet toegelaat word, sal Google en sy verskaffers en verspreiders nie verantwoordelik wees vir ’n verlies aan wins, inkomste, of data, finansiële verliese of indirekte, spesiale, gevolglike of bestraffende skadevergoeding nie.
Sover dit deur die wet toegelaat word, is die totale aanspreeklikheid van Google, en sy verskaffers en verspreiders, vir enige eis onder hierdie bepalings, insluitend vir enige nie-uitdruklike waarborge, beperk tot die bedrag wat jy aan ons betaal het om die dienste te gebruik (of, indien ons sou verkies, om weer hierdie dienste aan jou te verskaf).
In alle gevalle sal Google en sy verskaffers en verspreiders nie aanspreeklik wees vir enige verlies of skade wat nie redelikerwys voorsien kon word nie
Ons erken dat jy as ’n verbruiker in sekere lande wetlike regte kan hê. As jy hierdie dienste vir ’n persoonlike doel gebruik, beperk geen van hierdie bepalings of enige bykomende bepalings enige wetlike regte van verbruikers waarvan dalk nie deur middel van ’n kontrak afstand gedoen mag word nie.
Besigheidsgebruik van ons dienste
As jy ons dienste namens ’n besigheid gebruik, aanvaar daardie besigheid hierdie bepalings. Dit vrywaar en stel Google en sy sustersmaatskappye, ampsdraers, agente en werknemers vry van enige eis, regsgeding of handeling wat kan voortspruit uit of verband hou met die gebruik van die dienste of skending van hierdie bepalings, insluitend enige aanspreeklikheid of uitgawes wat kan voortspruit uit eise, verliese, skade, hofsake, uitsprake, gedingkoste en prokureursfooie.
Meer oor hierdie bepalings
Ons kan hierdie bepalings of enige bykomende bepalings wat op ’n diens van toepassing is, verander om veranderinge in die wet of in ons dienste te reflekteer. Jy behoort gereeld na die bepalings te kyk. Ons sal ’n kennisgewing oor wysigings aan hierdie bepalings op hierdie blad plaas. Ons sal ’n kennisgewing van bykomende bepalings wat gewysig is, in die relevante diens plaas. Veranderinge sal nie terugwerkend van toepassing wees nie en sal nie vroeër van krag raak as veertien dae nadat dit geplaas is nie. Veranderinge wat nuwe funksies aan ’n diens bied, of veranderinge wat weens wetlike redes aangebring is, sal dadelik van krag wees. As jy nie instem tot die gewysigde bepalings vir ’n diens nie, moet jy jou gebruik van daardie diens beëindig.
As daar konflik tussen hierdie bepalings en die bykomende bepalings is, sal die bykomende bepalings vir daardie konflik geld.
Hierdie bepalings reël die verhouding tussen jou en Google. Hulle skep nie enige derdeparty-begunstigdes se regte nie.
As jy jou nie by hierdie bepalings neerlê nie, en ons neem nie dadelik stappe teen jou nie, beteken dit nie dat ons enige van ons regte prysgee nie (soos om in die toekoms stappe te neem).
As dit sou gebeur dat ’n spesifieke bepaling nie afdwingbaar is nie, sal dit nie ander bepalings beïnvloed nie.
In sommige lande sal die howe nie Kaliforniese wetgewing op sommige geskille toepas nie. As jy in een van daardie lande woon, dan – waar Kalifornië se wette nie van toepassing is nie – sal jou land se wette van toepassing wees op geskille wat met hierdie bepalings verband hou. Andersins stem jy in dat die wette van Kalifornië, VSA, uitsluitend Kalifornië se reëls oor die keuse van ’n wet, van toepassing sal wees op enige geskille wat kan voortspruit of verband hou met hierdie bepalings of die dienste. Net so, as die howe in jou land jou nie toelaat om in te stem tot die jurisdiksie en sittingsplek van die howe in Santa Clara County, Kalifornië, VSA, nie, sal jou plaaslike jurisdiksie en sittingsplek van toepassing wees op sodanige geskille wat met hierdie bepalings verband hou. Andersins sal alle eise wat voortspruit uit of verband hou met hierdie bepalings of dienste, slegs in die federale of geregshowe van Santa Clara County, Kalifornië, VSA gelitigeer word, en jy en Google stem in tot persoonlike jurisdiksie in hierdie howe.
Vir inligting oor hoe om Google te kontak, besoek asseblief ons kontakbladsy.